Groot-Lydensweek-2020-n-Meditatiewe-hulpmiddel.-ds.-Corné-Randall

Laai PDF hier af

LYDENSWEEK

`n Meditatiewe hulpmiddel wat jy kan gebruik om jou te help om iets van Groot Lydensweek te beleef, oor dit na te dink en deel te maak van jou eie lewe.

Beste lidmaat,

Die doel van hierdie boekie is om jou te begelei om iets van die lydensweg wat Jesus gestap het, te beleef. Jesus het hierdie lydensweg gestap sodat ek en jy lewe, en dit in oorvloed kan hê. Natuurlik kan `n mens nie aan Jesus se lydensweg, kruisiging en dood los van die leë graf (opstanding van Jesus) dink nie, maar ek wil jou graag uitnooi om dag – vir – dag by `n spesifieke teksgedeelte wat iets van Jesus se lyding uitlig, stil te staan en nie dadelik aan Jesus se opstanding te dink nie wanneer jy die teksgedeeltes lees.

Hierdie boekie is `n meditatiewe hulpmiddel (saamgestel met behulp van verskeie bronne en materiaal wat ek self geskryf het). Gee jouself genoeg tyd om stil te word, `n teksgedeelte te lees (en weer te lees) en om deur middel van `n simboliese handeling iets sintuiglik  van die teks te beleef. Let wel dat hierdie meditatiewe hulpmiddel nie presies kronologies Jesus se laaste paar dae op aarde volg nie. Ek het eerder sekere verhale of gebeure, wat iets van Jesus se lydensweg in herinnering roep, gekies.

Jy gaan die geleenheid kry om jou eie Paasfees uitstalling te maak. Jy kan hierdie uitstalling iewers in jou tuin of jou huis maak. Jy is welkom om aan die einde van die week `n foto van dit te neem en aan my via Whatsapp te stuur – ek wil graag die fotos op sosiale media plaas (ek sal nie jou naam/name by sit nie). Jy is welkom om hierdie hulpmiddel individueel of saam as `n gesin te gebruik.

Kyk eerlik, biddend na jou pyn, stryd, swakhede, twyfel en sonde. Bring dit in die teenwoordigheid van die Lydende Lam. Hy het gely en is versoek – weet dat Hy by jou is in elke stuk swakheid, lyding en versoeking wat jy moet deurgaan.

Ons is tans in `n tyd van inperking waarin ek persoonlik net weer besef ons as mense is nie so in beheer soos wat ons dink ons is nie. Mag jy in hierdie tyd van inperking waarin ons elkeen (al is jy deel van die essensiële dienste) anders leef, anders dink en anders optree op `n besondere manier iets van die Here se teenwoordigheid beleef. Mag jy, al is jy hoe bekend met die verhale van Jesus se lydensweg, ook opnuut aangegryp en aangeraak word deur Jesus se lyding.

Mag die Here jou reis gedurende hierdie groot Lydensweek seën! Ds. Corné Randall

Groot Lydensweek 2020

SONDAG 5 APRIL

DIE INTOG VAN JESUS IN JERUSALEM (PALMSONDAG)

Lees Matteus 21:1-11

  1. Toe hulle naby Jerusalem kom en Betfage aan die Olyfberg bereik, het Jesus twee dissipels vooruit gestuur
  2. en vir hulle gesê: “Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar ʼn donkie kry wat vasgemaak is, en ʼn vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My.
  3. En as iemand vir julle iets daaroor sê, antwoord dan: Die Here het hulle nodig, en Hy sal hulle gou weer terugstuur.”
  4. Dit het gebeur sodat die uitspraak van die profeet vervul sou word:
  5. “Sê vir Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe; Hy is nederig en Hy ry op ʼn donkie, op die vul van ʼn pakdier.”
  6. Die twee dissipels het toe vooruit gegaan en gedoen wat Jesus hulle beveel het.
  7. Hulle het die donkie en die vul gebring, van hulle klere op die diere gesit, en Jesus het opgeklim.
  8. Die grootste deel van die skare het van hulle klere op die pad oopgegooi, en ander het takkies van die bome afgebreek en dit op die pad gestrooi.
  9. Die mense wat voor Jesus geloop het en dié wat agter Hom aan gekom het, het begin uitroep: “Prys die Seun van Dawid! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom! Prys Hom in die hoogste hemel.”
  10. Toe Jesus in Jerusalem ingaan, het die hele stad in beroering gekom en gevra: “Wie is hierdie man?”
  11. Die skare het geantwoord: “Dit is die profeet Jesus van Nasaret in Galilea!”

Beleef nou die verhaal

So het dié Sondag aangebreek, die eerste dag van die Pasgaweek, die eerste dag van die laaste week van Jesus se aardse lewe, die dag van Sy feestelike intog in Jerusalem.

Die skare verwelkom Jesus soos ‘n koning in Jerusalem met liedere, klere en palmtakke op die pad – maar tog verstaan hulle nie werklik wie Hy is nie; of wat Hy kom doen het nie. In Lukas 19:41 en 42 vermeld Lukas dat Jesus gehuil het toe Hy nader aan die stad gekom het en dat Hy gesê het: “As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor”. Alhoewel die skare Jesus loof en prys, besef hulle nie werklik wie Hy is of wat Hy kom doen nie, want hulle dink onder andere nogsteeds aan politieke verlossing en nie ware blywende vrede tussen God en mens – juis die vrede wat Jesus bring.

Op die vraag: “Wie is hierdie man?”, antwoord die skare: “Dit is die profeet Jesus van Nasaret in Galilea” (Mat 21:11).

As iemand vir jou moet vra: “Wie is hierdie man?”, wat sal jy antwoord?

 

Betree nou die verhaal

Kry vir jou `n palmtak (of enige ander tak) wat jy vir jou Paasfees – uitstalling gaan gebruik. Kies `n plek (in jou tuin of huis) waar jy jou Paasfees – uitstalling kan doen (dit moet `n plek wees waar jy gereeld tyd spandeer sodat jy dikwels na die Paasfees – uitstalling gedurende die tyd kan kyk).

Wanneer jy die tak neersit bely die volgende woorde in jou hart:

“Here Jesus, U is die Pasga-lam wat vir my gesterf het, U is my Koning wat vrede tussen my en U gebring het, U is my Redder”. Ek eer U.

Gebed…Lees Psalm 24:7-10 biddend.

Verbly julle, poorte, wees bly, eeue-oue deure, want die magtige Koning wil ingaan! Wie is hierdie magtige Koning? Die Here, sterk en geweldig, die Here, oorwinnaar in elke stryd. Verbly julle, poorte, wees bly, eeue- oue deure, want die magtige Koning wil ingaan! Wie is Hy, hierdie magtige Koning? Die Here, die Almagtige, Hy is die magtige Koning.

MAANDAG 6 APRIL JESUS WORD GESALF

Lees Matteus 26:6-13

  1. Terwyl Jesus in Betanië in die huis van Simon die melaatse aan tafel was,
  2. het ʼn vrou by Jesus gekom met ʼn albaste fles baie kosbare reukolie en dit op sy kop uitgegiet.
  3. Toe die dissipels dit sien, was hulle verontwaardig. “Waarom so ʼn verkwisting?” vra hulle.
  4. “ʼn Mens kon die reukolie vir baie geld verkoop het en dit vir armes gegee het.”
  5. Jesus het dit gemerk en vir hulle gesê: “Waarom maak julle dit vir die vrou moeilik? Sy het ʼn goeie daad aan My gedoen.
  6. Die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.
  7. Deur hierdie reukolie op my liggaam uit te giet, het sy My voorberei vir my begrafnis.
  8. Dit verseker Ek julle: Oral waar hierdie evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot ʼn herinnering aan haar.”

 

Beleef nou die verhaal

Dit is opmerklik om raak te sien dat `n verhaal van die salwing in al die ander Evangelies ook voorkom (Matteus 26:6-13, Lukas 7: 36-50 en Johannes 12:1-8). Die salwingsverhale in Markus en Matteus stem baie ooreen, terwyl Lukas se verhaal aansienlik van Markus en Matteus se verhale verskil. Johannes se verhaal stem hoofsaaklik ooreen met Matteus en Markus se verhaal, hoewel hy ook elemente van die Lukas – weergawe bevat (soos onder andere dat Jesus se voete gesalf is, asook die feit dat die vrou haar hare gebruik om dit af te droog). Met die uitsondering van Lukas, kom dié verhaal by al drie Evangelies aan die begin van hulle verhale rondom die lydens- en paasgebeure voor.

Anders as die dissipels sê Jesus dat hierdie vrou `n goeie daad gedoen het (Matteus 26:16). Sy tree met `n stuk deernis teenoor Jesus op – sy gee van haarself, sy tree met liefde teenoor Jesus op.

Betree nou die verhaal

Vir die volgende simboliese handeling benodig jy `n klein bietjie olie en enige grootte kruis (jy kan ook self `n kruis van takke maak as jy lus is). Plaas die kruis by jou Paasfees – uitstalling. Neem nou die olie en gooi ’n paar druppels olie by die voet van die kruis uit. Wanneer jy van die olie uitgooi bely jy die volgende woorde in jou hart:

“Here Jesus U is my God en Koning”.

Gebed…lees Psalm 104:1-4 biddend

Ek wil die Here loof!

Here my God, U is baie groot,

U is beklee met koninklike luister, U is met ‘n kleed van lig omhul.

Dit is U wat die hemelkoepel soos ‘n tentdoek gespan en vir U ‘n woonplek ingerig het oor die waters daarbo, U wat op die wolke ry,

op die vleuels van die wind,

U wat die winde u boodskappers maak, die weerligte u dienaars,

U wat die aarde stewig gevestig het, sodat dit nooit sal wankel nie.

DINSDAG 7 APRIL PETRUS VERLOËN JESUS

Lees Lukas 22:54-62

  • Hulle het Jesus toe gevange geneem en Hom weggelei en in die huis van die hoëpriester gebring. Petrus het op ‘n afstand agterna gekom.
  • In die middel van die binneplaas was daar ‘n vuur, en daar het mense by mekaar gesit. Petrus het tussen hulle gaan sit.
  • ‘n Diensmeisie wat hom in die skynsel van die vuur sien sit het, het hom goed bekyk en gesê: “Dié een was ook saam met daardie man”.
  • Maar Petrus het dit ontken deur te sê: “Juffrou, ek ken Hom nie!”
  • ‘n Rukkie later sien iemand anders hom en sê: “Jy is mos ook een van hulle”. Maar Petrus antwoord: “Man, ek is nie!”
  • Na verloop van sowat ‘n uur het nog een met beslistheid beweer: “Sowaar, dié een was ook saam met daardie man. Hy is mos ook ‘n Galileër!”
  • Maar Petrus sê: “Man, ek weet nie waarvan jy praat nie!” En onmiddellik, terwyl hy nog praat, het daar ‘n haan gekraai.
  • Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk. Toe val dit Petrus by wat die Here vir hom gesê het: “Voordat die haan vannag kraai, sal jy My drie maal verloën”.
  • En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.

Beleef nou die verhaal

As `n mens so deur die Evangelies blaai, lees `n mens nogal baie Petrus se naam raak. Wanneer ek aan die dissipel Petrus dink is daar `n woord wat sommer dadelik in my kop opkom: PASSIEVOL.

Petrus wie Jesus se genesingswerke eerstehands ondervind het toe Jesus Petrus se skoonma gesond gemaak het. Petrus wie bely: “U is die Christus, die Seun van die lewende God. Ja daardie dissipel wie nie bang is nie en met passie sê: “Al sal hulle U ook almal in die steek laat, ék sal U nooit in die steek laat nie…Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!” (Matteus 26:33, 35).

En tog faal Petrus. Hy verloën Jesus drie maal.

Lukas noem dat Jesus omgedraai en Petrus aangekyk het nadat Petrus hom verloën het (Lukas 22:61).Wat dink jy het Petrus in Jesus se oë gelees toe Jesus omgedraai het en vir hom gekyk het?

Was daar vergifnis vir Petrus se verloëning Jesus verseker Petrus dat Hy die rots is waarop Jesus die kerk sal bou. Die Here het Petrus heeltemal vergewe. Dink jy Petrus het homself vergewe?

Betree nou die verhaal

Almal van ons het al Petrus-oomblikke gehad. Tye wanneer ons die Here verloën het. Geleenthede toe ons stil gebly het, toe ons moes gepraat het. Oomblikke waaroor ons skaam is. Dinge wat ons eerder wil wegsteek as ontbloot.

Dink vir ’n oomblik na oor jou eie Petrus-oomblikke.

Neem nou ’n papier en pen. Skryf ’n brief/’n paar woorde of teken ’n prent wat jou Petrus-oomblik/ke verteenwoordig. Vou jou papier op en plaas dit iewers waar jy dit maklik weer kan kry (jy gaan dit later in die week by jou Paasfees – uitstalling sit).

Word vir ‘n paar oomblikke stil en reflekteer oor dit wat jy geskryf of geteken het.

WOENSDAG 8 APRIL

`N KROON EN `N KLEED

Lees Johannes 19:1-16.

  1. Toe het Pilatus vir Jesus geneem en Hom laat gésel.
  • Die soldate het ‘n doringkroon gevleg en dit op sy kop gesit. Hulle het vir Hom ‘n pers mantel aangetrek
  • en herhaaldelik nader na Hom toe gekom en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” En elke keer het hulle Hom geklap.
  • Pilatus het toe weer buitentoe gekom en vir die Jode gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.”
  • Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: “Dit is die mens!”
  • Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, skreeu hulle: “Kruisig hom! Kruisig hom!”

“Vat júlle hom en kruisig hom,” sê Pilatus daarop vir hulle, “want ék vind geen skuld in hom nie.”

  • Die Jode sê toe vir hom: “Ons het ‘n wet, en volgens dié wet moet hy dood, omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het.”
  • Toe Pilatus dit hoor, het hy nog banger geword. 9 Hy het weer in sy ampswoning ingegaan en vir Jesus gevra: “Waar kom jy vandaan?”Jesus het hom egter nie geantwoord nie.
  • Pilatus sê toe vir Hom: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die mag het om jou los te laat en ook die mag om jou te kruisig nie?”
  • En Jesus antwoord hom: “U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, groter skuld.”
  • Hieroor het Pilatus probeer om Hom los te laat; maar die Jode het geskreeu: “As u hom loslaat, is u nie ‘n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as koning voordoen, is in verset teen die keiser.”
  • Toe Pilatus dit alles hoor, het hy vir Jesus buitentoe gebring en op die regbank gaan sit op die plek wat Klipterras genoem word, in Hebreeus Gabbata.
  • Dit was die voorbereiding vir die paasfees, en dit was omtrent sesuur die môre. Hy sê toe vir die Jode: “Hier is julle koning!”
  • Maar hulle skreeu: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!” Toe vra Pilatus vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?”

Die priesterhoofde antwoord: “Ons het nie ‘n koning nie; ons het net die keiser.”

  1. Toe het hy Hom op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem.

 

Beleef nou die verhaal

In hierdie verhaal is daar `n klomp verskillende karakters en groepe mense wat `n klomp verskillende dinge sê. Een manier om `n teks te lees is om spesifiek te fokus op die dialoog/direkte woorde wat in `n teks voorkom – om te let op wie wat sê en ook te let op wat nie gesê word nie. Dikwels hoor `n mens dan `n teks op `n ander manier .

  • Lees die teks weer deur en let spesifiek op na die dialoog/woorde wat in hierdie teks voorkom.
  • Lees die teks weer deur en gebruik verskillende kleure om verskillende persone en groepe se woorde uit te lig. Gebruik byvoorbeeld blou vir Pilatus, pers vir Jesus en verskillende kleure vir verskillende groepe mense se woorde.
  • Wie praat die meeste in die teks?
  • Wie praat die minste in die teks?
  • Is daar dalk iets wat jy nuut/anders hoor of sien uit die teks op grond van die woorde wat gebruik word?

 

Betree die verhaal

Maak `n doringkroon wat jy by jou Paasfees – uitstalling kan sit. Jy kan byvoorbeeld `n doringkroon van papier maak (volg die skakel na `n video wat jou wys hoe om dit te doen https://youtu.be/_-6DKIZvoSo).

Gebed…lees Liedboek 389 biddend.

  1. Is dit, is dit my Koning – kyk daar, aanskou die Mens!

Is dit, is dit sy kroning – wie het dit so gewens?

Is dit sy koningshulde – dié riet, dié kleed, dié kroon? Boet Hy só vir my skulde, word só Gods Seun vertoon!

  • Ja, ek kos Hom die slae, die smarte en die hoon.

Vir my hang Hy, verlate en naak, met doringkroon.

Vir my was daardie wonde, vir my moes Hy daar staan; Hy moes vir al my sonde die bitt’re kruisweg gaan.

  • O Jesus, Man van smarte, o Liefde onbegrens,

Skryf diep in alle harte die woord: “Aanskou die Mens!” O laat my nooit vergeet nie dié kroon, dié kleed, dié riet! Geen groter troos in leed nie – dis ook vir my geskied!

DONDERDAG 9 APRIL AAN TAFEL SAAM MET JESUS

Lees Markus 14:22-25.

  • Terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir hulle gegee met die woorde: ‘Neem dit, dit is my liggaam.’
  • Toe neem Hy ‘n beker en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle, en hulle het almal daaruit gedrink.
  • Hy sê vir hulle: ‘Dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie mense vergiet word.
  • Dit verseker Ek julle: Ek sal nie weer wyn drink nie tot op daardie dag wanneer Ek die nuwe wyn in die koninkryk van God sal drink.’

(tydens hierdie meditatiewe geleentheid gaan ons nagmaal vier, so kry vóór die tyd wyn/druiwesap en brood reg).

 

Beleef die verhaal

Die nagmaal is `n sakrament met besondere betekenis. Ons gebruik en vier die nagmaal om ons te herinner aan wat Jesus vir elkeen van ons kom doen het. Die nagmaal bevestig God se beloftes aan ons, gee aan ons die versekering van God se genade en herinner ons aan God se getroue liefde wat Hy onvoorwaardelik aan elkeen van ons gee.

Die nagmaal vertel vir ons wat Jesus gedoen het naamlik:

  • Hy het aan die kruis vir ons gesterf, maar het ook opgestaan en Hy lewe.
    • Die brood wat ons eet, laat dink ons aan die swaarkry en die dood van Jesus aan die kruis.
    • Die wyn wat ons drink, laat dink ons aan die bloed van Jesus wat vir ons aan die kruis gevloei het.
    • Wanneer ons die brood en wyn gebruik, sê ons almal saam vir die Here dankie dat ons sy kinders is.
    • Ons sê ook daarmee dat ons glo dat ons almal eendag saam met Jesus in die hemel sal wees.
    • Die nagmaal help ons nou al om te sien hoe lekker dit eendag in die hemel gaan wees. Daarom is ons bly wanneer ons die nagmaal gebruik.
    • Ons sê ook deur die nagmaal vir die Here dankie vir alles wat Hy vir ons doen en gedoen het.

 

Geloofsverklaring

Bely die volgende woorde:

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde.

Ek glo in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees;

gebore is uit die maagd Maria;

wat gely het onder Pontius Pilatus,

gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;

wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,

vanwaar Hy sal kom om te oordeel dié wat nog lewe,

en dié wat reeds gesterf het. Ek glo in die Heilige Gees.

Ek glo aan ‘n heilige, algemene Christelike kerk,

die gemeenskap van die heiliges; die vergewing van sondes;

die opstanding van die vlees en ‘n ewige lewe.

Amen

Betree die verhaal

Wanneer ons die brood eet, dink ons daaraan dat Jesus vir ons aan die kruis gesterf het en glo ons dat Hy al ons sondes weggevat het.

Eet die brood.

Wanneer ons die wyn drink, dink ons daaraan dat Jesus se bloed vir ons aan die kruis gevloei het en glo ons dat Hy al ons sondes weggevat het.

Drink die wyn/druiwesap.

Gebed…lees die volgende woorde biddend

Here, dankie dat ek deur die nagmaal herinner kan word aan wat U vir my aan die kruis gedoen het. Dankie vir die offer wat U gebring het sodat ek lewe en dit in oorvloed kan hê.

Dankie Here dat ek, alhoewel ons as gemeente nie fisies bymekaar teenwoordig kan wees nie, tog weet dat ek deel is van die geloofsgemeenskap van NG Overkruin gemeente.

AMEN.

As jy van iemand in die gemeente weet wie op een of ander manier `n krisis beleef, bel en bid vir hom/haar/hulle oor die foon of stuur `n boodskap waarin jy vir hom/haar/hulle bid. Ons is nogsteeds saam – wel net op ander maniere.

VRYDAG 10 APRIL JESUS STERWE

Vat `n paar oomblikke en kyk na die volgende prentjie

Dink na oor die volgende vrae:

  • Wat sien jy raak?
    • Wat pla jou van hierdie uitbeelding? Waarvan hou jy nie?
    • Wat in hierdie uitbeelding raak jou?

 

Lees Markus 15: 33-41

  • Teen twaalfuur die middag het daar duisternis oor die hele land gekom en dit het tot drie-uur geduur.
  • Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: ‘Eloï Eloï, lema sabagtani?’ Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?
  • Toe party van die mense wat daar naby gestaan het, dit hoor, sê hulle: ‘Hoor daar, hy roep vir Elia.’
  • Een van hulle het toe gehardloop, ‘n spons in suur wyn gesteek en dit vir Hom op ‘n stok gehou om te drink. Hy het gesê: ‘Wag, kom ons kyk of Elia hom van die kruis kom afhaal.’
  • Daarna het Jesus hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.
  • Die voorhangsel in die tempel het van bo tot onder middeldeur geskeur.
  • Toe die offisier, wat reg voor Jesus gestaan het, Hom die laaste asem so sien uitblaas het, het hy gesê: ‘Hierdie man was werklik die Seun van God.’
  • Daar het ook vroue op ‘n afstand gestaan en kyk. Onder hulle was Maria Magdalena en Maria die moeder van Klein-Jakobus en Joses, en Salome.
  • Toe Jesus nog in Galilea was, het hulle oral saam met Hom gegaan en Hom versorg. Baie ander vroue wat saam met Hom na Jerusalem toe gekom het, was ook daar.

 

Beleef die verhaal

Lees biddend Koos van der Merwe se gedig:

Inkarnasie

êrens in strate van stof êrens in stede van klip

Hy het by mense van klei kom woon lig het met donker kom praat sondaar en Redder was saam

verlore verdwaal het ontmoet met hoop krisis verkrummel deur krag

leuen deur die waarheid oorwin stukkende mense het Hy verbind ek sal my lewe ook bring

ek sal kom buig voor my Heer en aan sy voete sal rus my vind as U my red, is ek vry

rig U my op, kan ek leef

raak met u hand aan die stof in my.

Betree die verhaal

Neem nou die briefie wat jy Dinsdag geskryf het en los dit by die voet van die kruis. Los daardie dinge by die kruis en weet dat jy volkome vergewe is.

Dank die Here vir Sy genade.

Gebed…

Here Jesus ons bewonder U. En ons eer U, want U het ons kom red. Amen

SATERDAG 11 APRIL STIL SATERDAG

Die ritme van vandag verskil van die vorige paar dae…

Omdat gelowiges vandag aan Christus in die graf dink, vorm stilte `n belangrike meditatiewe komponent van die hele dag…

Die stilte is egter nie sonder passie nie, maar vol gespanne afwagting op die uitkoms van Christus se worstelling met die dood…

Wat gaan gebeur…

(Onthou om `n foto van jou Paasfeet – uitstalling vir my te stuur)

U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig.
Psalms 16:11

foto van uurglas

Tyd – Dr. Petrus Moolman

Wat het jy in hierdie grendeltyd geleer wat positief is? Wat is ons verstaan en belewing van tyd? In hierdie artikel wil ek graag jou gedagtes stimuleer om na te dink oor wat tyd vir jou beteken? Lees gerus verder deur op hierdie skakel te kliek.

Luister na die preek...

Hemel op aarde – Dr. Petrus Moolman

In hierdie artikel gesels dr. Petrus Moolman oor die dieper betekenis van hierdie algemene uitdrukking wat ons dikwels gebruik… dis nou “hemel op aarde”. Jy kan die volledige artikel lees deur op hierdie skakel te kliek.

Luister na die preek...

Om in Jesus se lyf te leef – Dr. Petrus Moolman

In hierdie artikel deel Dr. Petrus Moolman ‘n paar gedagtes oor die realiteit daarvan dat Jesus liggaamlik op aarde geleef het en wat dit dan ook vir ons beteken om deel te wees van Sy liggaam. Lees die hele artikel deur op hierdie skakel te kliek.

Luister na die preek...

Geloof in ‘n tyd soos hierdie – Dr. Petrus Moolman

In hierdie artikel deel Dr. Petrus Moolman ‘n paar gedagtes oor die verskil wat geloof (en spesifiek dan geloof in die Drie-Enige God) in ‘n tyd soos hierdie in ons lewens kan maak. En miskien is dit tyd dat ons ook nuwe geloofslense sal kry om juis perspektief te kry op die tyd waarin God…

Luister na die preek...

Twyfel – Dr. Petrus Moolman

In hierdie artikel deel Dr. Petrus Moolman ‘n paar gedagtes deel oor die vraag of dit normaal is dat ‘n gelowige soms vertwyfeling ervaar in ons geloof. Kan mens begin vrae vra oor dinge wat ek tot nou altyd as vas en waar aanvaar het? Sy slotsom is dat ons verby die wasigheid van twyfel…

Luister na die preek...

Vryheid – Dr. Petrus Moolman

In hierdie artikel gesels Dr. Petrus Moolman oor vryheid en wat dit vir ons as gelowiges beteken ook nou in die COVID-19-grendeltyd. Sy slotsom is dat ons kan droom oor ‘n toekoms, aangesien ons vry ís in Christus. Lees die hele artikel deur op hierdie skakel te kliek.

Luister na die preek...

Lyding en Hoop – Dr. Petrus Moolman

Lydenstyd 2020 en Paasnaweek is agter die rug. Ons het dit oorleef en is gestimuleer deur mandjiesvol boodskappe, preke en sommer net onderlinge bemoediging. Dit is goed dat ons die Paasnaweek in afsondering kon vier. Dit het tog ‘n ander dimensie aan die lig gebring van stilword, bepeinsing en selfontdekking. Gedurende hierdie tyd het ek na…

Luister na die preek...

Kan gegrendel wees betekenis hê?

Laai die PDF hier af. Dr Petrus Moolman reflekteer oor die betekenis daarvan om “gegrendel” te wees… In Covid-19 afsondering, April 2020 Met hierdie praatjie probeer ek sommer bietjie padlangs oor die begrip ‘betekenis’ gesels. Dit is nie nog ‘n lysie van dinge wat jy gedurende die tyd van afsondering kan doen nie. Ons hoor die begrip ‘betekenis’ of ‘betekenisvol’ nogal…

Luister na die preek...

Huiskerk

Ds. Heinrich Carstens het 6 liturgieë uitgewerk wat jy kan gebruik om saam met jou huismense ‘n huiserediens te hou. Laai Huiskerk #1 se PDF hier af. Laai Huiskerk #2 se PDF hier af. Laai Huiskerk #3 se PDF hier af. Laai Huiskerk #4 se PDF hier af. Laai Huiskerk #5 se PDF hier af….

Luister na die preek...

STRAF God met Covid-19?

Petrus Moolman (PhD) In Covid-19 afsondering, Maart 2020 Laai PDF dokument hier af. Sedert almal in verpligte afsondering geplaas is, word die sosiale media oorstroom met boodskappe en plasings van godsdienstige aard. Baie van hulle is kosbaar en opbouend. Ander is egter ontstellend en vir baie gelowiges verwarrend. Dit maak mense onseker in hulle geloof…

Luister na die preek...